Wees lief vir jou kinders

Johan Smith

Jy dink miskien dis totaal oorbodig en onnodig om vir ouers te sê hulle moet hulle kinders liefhê. Dit is mos vanselfsprekend – almal weet dit mos. Die waarheid is egter dat baie jongmense wat by sielkundiges, beraders en terapeute eindig, se grootste probleem ’n gebrek aan liefde is. Ouers is gewoonlik baie verbaas om te hoor dat juis dít hulle kind se probleem is. Die ouers ervaar ’n gevoel van liefde vir hulle kinders, terwyl kinders ervaar dat ouers hulle nie liefhet nie. Iewers tussen ouers se emosie in hulle hart en dit wat dieselfde ouer se kind beleef, is ‘n reuse kloof. Ek het self al met tientalle jongmense gewerk wat die kloof diep en intens ervaar. Die gevolge is soms diep verwerping van mense wat die heel naaste aan hulle leef.

 

Ouers moet besef dat liefde ’n werkwoord is – dis iets wat jy doen. Liefde is iets wat geleef en nie gevoel word nie. Kinders wil liefde sien en ervaar voordat hulle gaan ervaar iemand het hulle lief. Die eerste en algemeenste manier om seker te maak ’n kind ervaar liefde is om dit te sê. Die Here het elke pa en ma met ‘n tong geseën om ander mee te seën. Geen mens kan sonder liefde funksioneer en ’n gelukkige, vol lewe lei nie. Soveel te meer ’n kind. Hulle wil en moet gereeld hoor jy het hulle lief. Hoekom is dit so maklik om met kinders te raas of hulle te kritiseer en tog so moeilik om te sê jy het hulle lief? As jy sukkel om dit reguit te sê, gebruik ’n kaartjie, briefie, e-pos, of SMS – sê dit net.

 

Verder moet ouers liefde tasbaar en fisiek vir hulle kinders wys. Dis vir baie ouers makliker om pakslae uit te deel as om ’n kind te omhels. Kinders smag na drukkies, met ander woorde die fisieke demonstrasie van liefde. Lank voor ’n kind die konsep van liefde kan verstaan, ervaar hy liefde deur vertroeteling en aanraking. Gebruik jou hande en arms om jou kinders lief te hê.

 

Die maklikste, maar in vandag se tyd ook die een van die moeilikste gebare van liefde, is om met jou kinders te speel. Dis moeilik omdat ouers se lewe so gejaagd is en hulle min tyd het vir speel. Maak tyd om met jou kinders te speel en wees verseker hulle ervaar liefde. Stoei op die mat, hardloop om die huis en baljaar in die swembad…..vir ‘n kleiner kind is dit liefde. Vir ‘n tiener moet jy van jou tyd gee. Hulle spel liefde T-Y-D. Doen wat hulle graag wil doen en bou ‘n liefdesband wat nie met geld gekoop kan word nie.

 

Die bekende gedeelte oor die liefde in die Bybel, naamlik 1 Korintiërs 13 beskryf dit so mooi:

 

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!

1 Korintiërs 13:13