Dr. Johan Smith is ‘n baie bekende motiveringspreker.  Hy het ook verlede week die FEDSAS-praatjie ‘Verstaan jou kind beter’  by Laerskool Laeveld aangebied   

 Ouerskap is beslis nie kinderspeletjies nie!  Vind asseblief hiermee VitaAmp se nuusbrief met interessante raad oor ouerskap.

Ouers: jonkwees vandag is nie kinderspeletjies nie.

Johan Smith

 

Daar is ‘n wet wat bekend staan as die “law of differing views” wat die verhouding tussen ouers en kinders baie moeilik maak. Dis doodgewoon ‘n gegewe waarheid wat baie volwassenes sukkel om te verstaan en daarom het hulle nie die nodige genade met vandag se jongmense nie. Wat behels die inhoud en verstaan van die wet? Kom ek maak dit baie eenvoudig:

Ek was in grad 9 toe televisie in Suid-Afrika ingekom het. My pa het ‘n swart en wit televisie gekoop – blykbaar was kleur sleg vir ‘n mens se oë. Wil jy nou meer! Kyk het ons gekyk – alles in swart en wit: Haas Das se Nuuskas, Kraaines, Wielie Walie, Bennie Boekwurm en Heidi. Daar was nie seks of geweld nie. Jy sou ver moes soek om ‘n oopmondsoen op televisie te kry! Vandag se jongmense sien oor ‘n periode van ‘n paar jaar letterlik honderde-duisende tonele van geweld en seks. Hulle word groot daarmee.

Ek was min of meer dertig jaar oud toe ek my eerste e-pos kon stuur, want dit was die tyd wat die internet die wêreld en ook Suid-Afrika getref het. Daar was nie iets soos selfone nie. Daar was nie iets soos pornografie op ‘n rekenaar of selfoon nie. Die seksmal-seksbase het nie te lank gevat om die internet spreekwoordelik oor te neem nie en vandag sit ons met veel meer as 4 miljoen pornografiese webtuistes. Jou kind word hiermee gekonfronteer en hierdeur uitgedaag!

In my jongdae was ‘n drankwinkel voorwaar ‘n verbeeldinglose plek om te besoek. Daar was die gewone wyn, bier en ‘n paar soorte hardehout. Dit was dit. Vandag is die winkels “versier” met ‘n verskeidenheid van bier, ook oorsese bier, mengeldrankies met gevaarlike hoë alkoholvlakke en voordurende nuwe reekse aanloklike produkte wat soos koeldrank lyk en proe. Die siekte Vigs het nie bestaan in my tienerjare nie en daarom ook nie die woord nie. Hierdie dinge verwar jou kind vandag!

Hierdie is alles dinge wat vandag ‘n groot deel van die omgewing vorm waarin hulle grootword. Verstaan jy nou die “law of differing views”?  Jou kinders trotseer ander en veel erger aanslae as jy in jou jonger jare. Jou en hulle grootword wêreld verskil drasties. Hulle is gewikkel in ‘n oorlog wat grootword baie moeiliker maak as 20 jaar gelede.

Daarom is ‘n ouer se verhouding met sy/haar kind vandag so uiters belangrik. Daarom is simpatie en deernis en omgee so ontsettend belangrik as dit kom by ouers en kinders in een huis. Daarom is dit so belangrik om oop kaarte met mekaar te kan speel en by mekaar se harte te kan uitkom. Die realiteit is dat dit in baie min gesinne vandag gebeur. Liewe ouer, werk doelgerig hieraan. Maak jou verhouding met jou kind en die beskerming van jou kind se hart jou eerste prioriteit. Jy sal soet vrugte pluk in ‘n harde, ongenaakbare wêreld.