12/02/2021
Geagte Ouers
Ek glo en vertrou dat ons Vlammie familie uitgerus en reg is vir die jaar. Die skool en personeel sien uit na 2021. Alhoewel daar kommer is oor die jaar, sal die veranderlike hanteer word soos dit opduik. Ons is egter vol vertroue dat daar ʼn sinvolle akademiese jaar sal wees.
Ons verwelkom die graad agts en elke nuwe leerder wat by die Vlammies aangesluit het en nooi jul om Bergvlam jul tuiste te maak.
Aan ons matriekgroep van 2021, maak dit jul beste skooljaar. Werk hard hierdie jaar om sodoende vir jouself deure oop te maak. Ons het volle vertroue in julle.
Terwyl ons nog steeds op vlak drie van die grendelstaat is, net die volgende reëlings vir die begin van die skooljaar:
• die skool versoek dat ons ouers en leerders hul maskers ten alle tye dra,
• hande gereeld te was en onnodige samedrommings te vermy,
• ons versoek ook dat leerders wat siek is, tuis sal bly en nie die skool sal bywoon nie,
• ten tyde van terugkeer, word in mediese sertifikate versoek, en
• u moet die skool onmiddellik in kennis stel indien u kind positief toets vir die virus en/of wanneer u kind in kontak was met ʼn persoon wat positief getoets is.
1. DAGPROGRAM: 15 & 16 FEBRUARIE 2021
Die skool begin amptelik op Maandag 15 Februarie 2021, om 07:30 vir die volgende grade:
• Gr. 12
• Gr. 10
• Gr. 8
Die skool begin amptelik op Dinsdag 16 Februarie 2021, om 07:30 vir die volgende grade:
• Gr. 11
• Gr. 9
• Gr. 8
Die leerlinge maak gebruik van die BK- en draaihek. Al die graad 8 leerders sal begelei word na die saal.
17 FEBRUARIE 2021 – DAG 1 – GROEP 1
18 FEBRUARIE 2021 – DAG 1 – GROEP 2
2. NUWE ONDERWYSERS EN STUDENTE
Ons verwelkom die volgende personeel:
– Mej M. Steyn – Wetenskappe
– Mnr L. Cilliers – Gasvryheidstudies
– Mev E. Van Zyl – Afrikaans
Studente:
– Mej C. Benson
– Mej L. Buys
– Mej A. Pretorius
– Mej K. Reekers
3. MATRIEKLUITSLAE
Die matrieks van 2020 se uitslae sal deurgegee word, sodra ons die inligting van die Departement van Onderwys ontvang. U kan gerus ook skool webwerf www.bergvlam.co.za besoek vir die inligting nadat uitslae bekendgemaak is.
4. SKOOLFONDS
Die skoolfonds vir 2021 beloop R22 600.00. Ons dank aan almal wat alreeds betalings gemaak het. U is welkom om by die finansiële kantoor reëlings te tref vir betalings.
5. HANDBOEKE
Daar is nog baie handboeke uitstaande van 2020. Ons versoek u om die uitstaande boeke terug te handig alvorens die leerling nuwe handboeke kan ontvang.
6. VAKGELDE / HANDBOEKGELD – 2021
Geleentheid sal gegee word vir die leerders om op 15 en 16 Februarie betalings by die finansiële kantoor te doen. EFT kwitansies moet eers by die kantoor geverifieer word en agterstallige skuld moet ook vereffen word. U samewerking word hoog op prys gestel.
7. INLIGTINGSBOEKIE
Elke leerder ontvang ʼn boekie waarin kontakbesonderhede aangedui word met ‘n plek vir ʼn skoolfoto vir identifikasie.
8 WEB & D6 COMMUNICATOR
Al die inligting wat u benodig, is op die skool se webwerf www.bergvlam.co.za. U word versoek om te registreer op D6 Communicator om daagliks skool- kommunikasie te ontvang. Volg ons ook op Instagram en Facebook.
9. PERSOONLIKE INLIGTING
Indien u persoonlike besonderhede verander het, moet u die skool dadelik in kennis stel. Dit is baie belangrik dat ons u nuutste inligting het, sou ons u om watter rede ookal moet kontak.
.
10. AFSPRAKE
As u ʼn personeellid van Hoërskool Bergvlam wil sien, moet u vooraf ʼn afspraak maak. Onder geen omstandigede sal persone toegelaat word om die skool te betree sonder ʼn afspraak nie.
11. SPORT / KULTUUR / SOSIALE AKTIWITEITE
As gevolg van die virus, is alle aktiwiteite nog gestaak tot die Departement van Onderwys dit wysig.
12. BOSMOLPAD
Hierdie pad is onder konstruksie en kan ongelukkig nie gebruik word nie.
13. BEHEERLLIGAAMVERKIESING
Beheerlligaamverkiesing sal die week van 15 tot 18 Maart gehou word. Meer inligting sal nader aan die tyd vir u deurgegee word.
Ons is opgewonde oor 2021 en sien uit na die hoogtepunte wat dit kan meebring.
Vlammie groete
MNR DEON VISSER
HOOF