As Jesus ouer sou wees?
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is (Johannes 3:21)
Om vandag ouer te wees is nie maklik nie. Afgesien daarvan dat die meeste van ons self baie besig is, word ons kinders deurgans aan allerhande versoekings en ander afleidings blootgestel. Ouer-kind-tyd ding mee met besige programme, werksdruk, TV, selfone en rekenaarspeletjies… en kom altyd tweede.
Een van die heel belangrikste lesse wat ons by Jesus kan leer, is om, ten spite van ons vol programme, tyd vir ons kinders te maak. Jesus en sy dissipels was ook besig, maar Hy het die kuns verstaan om tyd vir hul samesyn te maak. Hy het moeite gedoen om hul verhoudings te versterk, na hulle te luister en baie met hulle te praat. Daarom was sy dissipels opgewasse en gereed om die wêreld te hanteer toe Hy nie meer daar was nie.
Ken jy jou kind(-ers)? Maak jy genoeg ouer-kind-tyd sodat jy hul harte verstaan? Tyd met ons kinders is ‘n belegging in hul toekoms en in ons verhouding met hulle.
Here Jesus, leer my om tyd saam met my kind(-ers) as ‘n prioriteit te stel. Amen