Johan Smith
‘n Mens lees gereeld in die literatuur vandag van oorbeskermende ouers. ‘n Mens dink aan streng kinderwetgewing en die dra van beskermende klere as die kinders byvoorbeeld fietsry. Ja, tye en dinge het dramaties verander. Tog is daar baie meer te lees in die woord “oorbeskermend” as net die dra van veilige klere en jou kind bewaar teen gevaar.
Dis asof ouers vandag in skok gaan as ‘n kind vasgevat word by die skool. Ouers sukkel om te glo dat hulle engeltjies ook iets verkeerd kan doen of sê. By die huis kry kinders baie vryhede en streng, kwaai kinders en bang ouers is aan die orde van die dag. Skole is juis al erg “gestrem” vandag as dit kom by die toepas van dissipline. Ouers is nie ‘n groot hulp hier nie en daag onderwysers gereeld uit as daar durf hard of ferm gepraat word met hulle kinders. Die reaksie van “my kind sal nooit so iets doen nie” is algemeen.
Toegegee, onderwysers maak ook foute en mag foute maak. Dat die skool egter elke keer op jou kind pik, jou kind uithaal en jou kind te na kom, is doodgewoon nie waar nie. Dat jy onder die indruk is dat jou kind ten alle tye soos ‘n engel optree, is om in ‘n droomwêreld te leef. In baie gevalle wonder ek doodgewoon of ouers enigsins vandag nog ernstig is oor hulle kinders se karakter. Ja, oor prestasie kan ons lank praat: daaraan word baie geld bestee. Daaroor word baie gespog. Daaroor word gedroom en daarvoor word beplan en begrott. Dit is lewensbelangrik vir die meeste ouers. Dis die dinge wat ouers gereeld op “ego-trips” sit. Dis soos ‘n dwelm waaraan baie ouers verslaaf raak.
Hoe klink die volgende vir jou: jou kind het provinsiale klere in rugby, maar het nie respek vir ander mense nie. Jou kind speel eerste span netbal, maar dink die wêreld draai om haar. Jou kind is die solo-sanger in die koor, maar is ongewild by oud en jonk as gevolg van sy hoogmoed. Jou kind speel A-span hokkie, maar aanvaar geen gesag van enige onderwyser nie. Jou kind staan eerste in haar klas, maar gee glad nie om vir ander mense wat nood ervaar nie. Jy sien, wat jy hier kry is op groot skaal die realiteit van vandag: karakter tel by baie ouers baie minder as hulle kinders se prestasies. Jou kind word jou wandelende selfbeeld as dit kom by presteer. Jou kind word ‘n afgod in jou lewe. Dis mos “ons” prestasies, want die mos “jou” kind wat presteer. Van dankbaarheid en nederigheid is daar min sprake, maar hoogmoed en spog kom eerste op die lys.
Dis tyd dat ouers besef dat die vorming van karakter die meeste van die tyd met ‘n bietjie pyn gepaard gaan vir jou kind. Moet nie elke keer as jou kind ‘n bietjie pyn ervaar, ingryp en red nie. Nee, begelei hulle daar deur. Help hulle verstaan wat karakter is en waaroor karakter gaan. Leer hulle om deur pyn te gaan en waardevolle lewenslesse daaruit te leer. Leer hulle dat pyn deel van die lewe is. Dis noodsaaklik vir ons groei as mens. Dis noodsaaklik vir die vorming van karakter. Deel jou stories in die verband en help jou kind om in hulle karakter te groei. Hou op om elke keer in te gryp en jou kind te wil red.
Droom karakterdrome oor jou kind……..