Redding Internasionaal: Dit was in die beginjare van televisie ‘n baie gewilde televisiereeks (die naaste wat ons in my jonger jare aan ‘n “series” gekom het). Wel, dis asof die reddingsoperasies vandag aangaan as dit kom by ouers en hulle kinders. Dalk moet dit net “Redding Nasionaal” genoem word. In my jonger jare was daar min tyd vir aanjaag sonder gevolge. Daar was min geleentheid vir droogmaak en skotvry daarvan afkom. Daar was min geleenthede vir wegkom met negatiewe gedrag.
Nee, nee, daar was gevolge by die huis. Daar was gevolge by die skool. Daar was min tot geen “Redding Nasionaal of Internasionaal” om in te gryp en met ‘n helikopter neer te daal om jou te “red” nie. Nee, jy het die gevolge van jou dade gedra en jou straf soos ‘n man gevat. Dit was toe….. Dit was verlede tyd….. Dit was eendag lank lank gelede…..
Vandag rek ma’s en pa’s se oë lewensgroot as hulle kind ietwat onvergenoegd by die huis kom. Hulle is stom van verbasing as hulle engelkind iewers hard aangespreek of verbaal ferm hanteer is. Hulle kan nie glo, en dit nog minder vat, as hulle kind ‘n inskrywing by die skool gekry het of selfs detensie moet sit vanweë goeie rede. “My kind sal nooit so iets doen nie”, is die oorwegende gedagte wat in ‘n ouer se kop maal met so ‘n “terugslag”. Die “pyn” wat jou kind ervaar is doodgewoon te veel en daar moet opgetree word.
Dis dan wat Redding Nasionaal intree. Die helikopter styg op en daal neer op die skool. Dis vandag wat die onderwyser/es gedreig gaan word met die skoolhoof en die beheerliggaam en die skoolhoof met die feit dat jy jou kind uit sy swak skool gaan haal en na ‘n ander skool gaan stuur.
Liewe ouer, en jy dink jy doen jou kind ‘n guns! Jy is mos al oud genoeg en daarom ken jy die lewe en het jy al die mooi, sag, lelik en hard van die lewe in al sy felheid ervaar en beleef. Die bietjie pyn en onvergenoegdheid wat jou kind ervaar, is die ideale geleentheid om hom ‘n hele klomp lewenslesse te leer. Begin met: negatiewe gedrag het slegte gevolge. Leer jou kind om sy kop op te tel, te leer uit die situasie en om te herstel wat hy verkeerd gedoen het. Die lewe is onregverdig, moet jy jou kind leer. Daar is tye van swaarkry en beproewing en jy moet jou kind leer om die dinge te kan hanteer.
Hou op om die hele tyd in te gryp! Hou op om jou kind van elke bietjie sleg en pyn te probeer red! Jy gaan nie altyd daar wees om jou kind te kan beskerm nie. Nee, jy kan jou kind die vaardighede leer om sleg, swaar, uitdagings en beproewings reg te hanteer. Jy ontneem jou kind kosbare groeigeleenthede. Jy maak dat jou kind eendag in die werklike, harde, onregverdige wêreld baie gaan sukkel. Sien, daar kom ‘n tyd wat pa of ma nie meer daar gaan wees om te red nie.
Hou altyd die woorde van die bekende Brene Brown in gedagte:
If we’re always following our children into the arena, hushing the critics,
and assuring their victory, they’ll never learn that they have the ability to dare
greatly on their own.
Johan Smith