Gesinne vandag: konnekted of diskonnekted?
Johan Smith
Nog nooit was daar ‘n tyd waar die mens so konnekted was as juis vandag nie. Jy konnekt deur middel van jou selfoon, rekenaar, televisie, radio, koerant of tydskrif. Die word FOMO (fear of missing out) is ‘n relatief nuwe woord en het baie te doen met die mens se drang om konnekted te wees. Tog, nog nooit was daar ‘n tyd waar die mens so geïsoleerd, alleen en eensaam geleef het nie. Iewers is daar ‘n misverstand…….
In die huwelik en die gesin is almal besig. Almal ken baie mense. Almal hardloop en beweeg teen hoë spoed. As hulle tot rus kom, of liewer sogenaamd tot rus kom, is dit nie met mekaar nie. Nee, die meeste van die tyd is dit met tegnologie wat ons kwansuis so konnekted hou. Om mekaar in die oë te kyk en mekaar se harte te sien en te deel, is oudmodies. Om stil te sit vir mekaar en by mekaar, gebeur selde. Almal jaag en verbeel hulle hulle is so konnekted. Die mens van vandag het tevrede geraak met die likes van sosiale media eerder as die liefde van die mense die naaste aan jou.
Craig Groeschel beskryf dit so raak, so in die kol en baie beter as wat ekself dit kan doen. Lees dit stadig, dink daaroor, lees dit weer, doen bietjie selfondersoek….. Praat hy nie dalk hier van jou, of jou huweliksmaat of jou kind nie? Is hierdie nie dalk die situasie in jou gesin nie?
We’re busy, but bored.
We’re full, but empty.
We’re connected, but lonelier than ever.
We’re more connected online than ever, but we often feel more alone than we can describe.
Die bekende Leonard Sweet skryf juis dat soos tegnologie al hoe meer ons lewens gaan oorneem en meer en meer gevorderd gaan raak, ons drang en verlange na dieper, meer intieme verhoudings gaan toeneem. Isolasie is ‘n siekte. Isolasie is ‘n probleem. God, ‘n verhoudingsGod, het die mens na Sy beeld geskep, naamlik ‘n verhoudingsmens. Jy is gemaak om te konnekt! Jy is gemaak vir ‘n verhouding met God en verhoudings met ander mense. Verseker is dit nie die gesig van ‘n selfoon, rekenaarskerm of televisieskerm nie. Jy mag dalk dink dit bevredig. Jy mag dalk dink dis konneksie.
Dink weer…..