19 Januarie 2017
Beste Ouers
KWARTAAL 1: OMSENDSKRYWE 1
Baie welkom aan elke nuwe Bergvlam-gesin, en baie welkom terug aan ons bestaande gesinne! Ons wens is dat 2018 vir elke gesin ‘n baie geseȅnde en suksesvolle jaar sal wees.
Neem asseblief kennis van die volgende belangrike sake:
- NUWE PERSONEEL EN NUWE LEERDERS
- Dit is vir Hoȅrskool Bergvlam ‘n voorreg om die volgende personeel hartlik te verwelkom in die Bergvlam-familie:
Mnr. Pieter Pretorius – Afrikaans Huistaal en Eerste Addisonele taal
Me Simoné van Graan – Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele taal
Mev Vanessa Esterhuizen – Rekeningkunde
Me Hetta Henning – EBW, Besigheidstudies
Mev. Louise Maree – Besigheidstudies, Toerisme
Mev. Annemi Jordaan – Natuurwetenskap, Wiskunde
Me Lindie Roux – Tegniese Wiskunde, Lewenswetenskap & Natuurwetenskap
Me Carmi Rademeyer – Sosiale Studies
- Baie geluk aan Me Esmari van den Berg wat gedurende die vakansie getroud is. Sy heet nou Grobler. Hoȅrskool Bergvlam bid julle ‘n baie geseȅnde huwelik toe.
- Baie welkom aan al ons nuwe Graad 8-leerders en hul ouers. Ons glo dat ons met elke gesin ‘n hegte band sal vorm oor die volgende paar jaar. Raak asseblief betrokke by die skool se aktiwiteite en ondersteun u kind in alles waaraan hy / sy deelneem.
- Ons nuwe leerders en hul ouers in ander grade is ook hartlik welkom. Motiveer asseblief u kind om by die verskillende aktiwiteite in te skakel sodat hy / sy spoedig deel van die skool se hartklop kan word.
GRAAD 12 2017 UITSLAE
- Die matriekgroep van 2017 het Hoȅrskool Bergvlam se naam weereens hoog gehou. Met ons 99% slaagsyfer is ons weereens een van die top skole in Mpumalanga!
- Sally Etsebeth, een van ons matriekleerders, het die beste prestasie vir Wiskundige Geletterdheid in die hele Mpumalanga behaal! Sy is tydens die provinsie se prysuitdelingsgeleentheid vir hierdie besondere prestasie vereer.
- ‘n Totaal van 112 onderskeidingsis behaal, en 50% slaag met universiteitstoelating.
VERLENGDE SKOOLURE – GRAAD 10, 11, 12
- Verlengede skoolure vir Graad 10, 11 en 12 is verpligtend. Hierdie is geensins ekstra klasse nie. As gevolg van die kurrikulum wat oorlaai is, kan die sillabus geensins voltooi word sonder dat ekstra onderrigtyd ingeruim word nie.
Bywoning van hierdie lesse is dus ononderhandelbaar!
- Graad 12 Wiskunde Maandag – Afrikaans
Dinsdag – Engels
- Graad 12 Fisiese Wetenskap Maandag – Engels
Dinsdag – Afrikaans
- Graad 10 – 12 Rekeningkunde Soos gereȅl deur Mev.
Esterhuizen
- Visuele Kuns en Ontwerp Soos gereȅl deur Mev. Alma
Swart
- Geografie Maandae 14:00 – 16:00
- SKOOLFONDS EN VERBRUIKERSFOOIE
- Báie dankie aan elke ouer wat reeds hierdie jaar se skoolfonds ten volle vereffen het, asook alle ouers wat die eerste kwartaal se skoolfonds reeds betaal het.
- U het die volgende betaal-opsies:
- Eenmalig voor 01 Maart 2018 (R1 500 korting) R18 000
- Maandeliks: kontant / tjek / internet / debietorder
Januarie tot Oktober 2018 R1 950
- Maandeliks: kontant / tjek / internet / debietorder
Januarie tot Desember 2018 R1 625
- Indien u finansieel noustrop trek, tref asseblief onverwyld reȅlings met die finansiȅle kantoor en voltooi so gou moontlik ‘n kortings- / kwytskeldingsvorm.
- Verbruikersfooie en werkboekgelde moet asseblief teen die einde van Januarie vereffen wees. Indien dit nie vir u moontlik is nie, moet u sonder versuim ‘n skriftelike reȅling met die vakonderwyser tref.
- By vakke met ‘n praktiese komponent, sal leerders nie met die prakties kan begin indien die verbruikersfooie nie vereffen is nie.
- UITTEKENPROSEDURE
- Indien dit totaal onvermydelik is om u kind gedurende die akademiese dag te kom uitteken, moet u ‘n skriftelike versoek saam met u kind skool toe stuur.
- Hierdie versoek word soggens voor skool / in voogperiode deur u kind by Ontvangs ingehandig. U kind sal dan ‘n toestemmingsbriefie ontvang om die klas op die geskeduleerde tyd te verlaat. U haal u kind dan by Ontvangs af sonder die klas onnodig gesteur word.
- Sou u net by die skool opdaag om u kind te kom haal, en nie ‘n brief saamstuur nie, sal u kind ongelukkig eers aan die einde van daardie periode uit die klas geroep word.
- NIEMAND sal toegelaat word om u kind sonder u toestemming uit te teken nie. Indien dit vir u onmoontlik is om u kind self te kom haal, móét u self met Ontvangs reȅl presies wie die persoon is wat u kind kom haal.
- TWEEDEHANDSE KLEREWINKEL
- Grietjie Prinsloo bedryf die tweedehandse klerewinkel vir die skool.
- Sy is van Maandae tot Vrydae gedurende skoolure beskikbaar indien u van hierdie diens wil gebruik maak.
- Skooldrag in uitstekende toestand, is hier beskikbaar teen uiters billike pryse.
- Sou u finansiȅle posisie haglik wees, kan alternatiewe reȅlings getref word.
- GRAAD 8-SPANBOU
- Die Graad 8-spanbou is gewoonlik ‘n heerlike dag vol pret.
- Onthou om ou klere aan te trek, en genoeg sonblok in te pak.
- Graad 8-leerders sal toegelaat word om op spesifieke tye iets by MacVlammie te koop. Leerders kan dus geld saambring daarvoor.
- OUERAANDE
- Net weer ‘n vriendelike herinnering:
Graad 8 en 9 oueraand: Maandag, 22 Januarie 2018 om 18:00
Graad 10 – 12 oueraand: Dinsdag, 23 Januarie 2018 om 18:00
- RUITPLAKKERS
- Die 2018 ruitplakkers is by sekuriteit by die hoofingang en by die finansiȅle kantoor beskikbaar teen R20,00 elk.
- Indien u nie ‘n plakker koop nie, sal u ongelukkig elke keer by die hek moet inteken.
- KOSPAKKIES
- Die skool voorsien kospakkies gedurende pouse aan behoeftige leerders.
- Die groep vrywilligers wat in die verlede kospakkies verskaf het, is tans redelik uitgedun.
- Indien daar van ons ma’s is wat kans sien om ‘n paar kospakkies ekstra te maak, en sodoende ‘n liefdesdaad verrig, kan hulle Mev. Jolanda Nel by die skool kontak.
- Ons moet ook van tyd tot tyd kruideniersware verskaf aan behoeftige gesinne. Dit sal hoogs waardeer word as u u weg oopsien om vir ons nie-bederfbare produkte skool toe te stuur. Die leerders kan dit na Mev. Jolanda Nel se kantoor neem.
- Indien u kan help sal dit opreg waardeer word.
- GEBEDSGROEP
- Om gereeld vir die skool te bid, is van kardinale belang.
- Daar is reeds vir etlike jare ‘n groep ma’s wat een keer per week bymekaar kom om vir die skool se behoeftes te bid.
- Die skool wil ‘n ernstige beroep op ma’s doen om deel te word van hierdie onmisbare groep. Pa’s is ook enige tyd baie welkom.
- Die groep kom een oggend van die week vanaf 07:00 – 07:30 bymekaar om saam te bid.
- Indien u geroepe voel om saam te kom bid, stuur asseblief ‘n epos aan Mev. Jolanda Nel by jolanda@bergvlam.co.za .
- WEB, D6 COMMUNICATOR, SELFOONTOEPASSING
- Die skool se webblad verskaf al die nodige inligting wat u verlang.
- Registreer op D6 Communicator en word deurentyd op hoogte gebring van belangrike inligting.
- Om op hoogte te bly met alles wat gebeur, kan u gerus van die skool se toepassing (app) op ‘playstore’ gebruik maak.
- Volg ons asseblief ook op Face Book en Twitter.
Hartlike Bergvlam-groete
ANNEMARIÉ KLEYNHANS
HOOF