INFO: “Sexting”, ’n reuse-probleem in skole.

INFO: “Sexting”, ’n reuse-probleem in skole.

‘Sexting’, ’n reuse-probleem in skole.

“ OUERS MOET WEET: AS TIENERS SELFONE HET, HET HULLE VOLLEDIGE TOEGANG TOT DIE INTERNET EN DUS PORNOGRAFIE. MOENIE INBREUK MAAK OP HUL PRIVAATHEID NIE, MAAR HOU DIT DOP ”

Sexting – om seksuele foto’s, video’s of boodskappe rond te stuur – word ’n reuse-probleem in skole.
Kaalfoto’s van 20 Pretoriase skoolseuns is die afgelope week op Twitter versprei.

Dis onwettig om dié soort inhoud te vervaardig, te versprei of te besit, al neem albei partye vrywillig daaraan deel.
“Kinders wat betrokke is in die vervaardiging van pornografie word emosioneel geweldig beskadig, maar hul name kan ook op die register vir seksoortreders beland,” het Carina du Toit van die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Kinderreg gesê.

“Kinderpornografie is ’n skedule 3-misdryf in die Wet op die Beregting van Kinders – wat as baie ernstig beskou word.”
Du Toit het vertel ’n 16-jarige meisie van Welkom is ’n ruk gelede tot drie jaar tronkstraf gevonnis omdat sy foto’s van haarself aan ’n ouer man gestuur het.

“Die vonnis is opgeskort, maar haar naam bly lewenslank op die nasionale register van seks-oortreders.”
Du Toit het verduidelik die konstitusionele hof het vroeër vanjaar ’n artikel oor kinderseks in die Wysigingswet op Seksoortreders ongrondwetlik verklaar, maar die inwerkingstelling van die uitspraak is opgeskort en na die parlement verwys vir wysiging.

Dus word die name van kinders ouer as tien jaar wat seks¬oortredings begaan steeds in dié register aangebring.
Volgens Jaco Swanepoel, bestuurder van digitale forensiese analise by Cyanre: The Computer Forensic Lab, het hul maatskappy die laaste maande ’n beduidende toename in gevalle van sexting ondersoek.

“Ouers moet weet: As tieners selfone het, het hulle volledige toegang tot die internet en dus pornografie. Moenie inbreuk maak op hul privaatheid nie, maar hou dit dop.”
Emma Sadleir, ’n prokureur wat in sosiale media spesialiseer, het gesê onherstelbare skade word aan kinders berokken as sulke foto’s oor die internet versprei word.

“Ek kry die afgelope jaar seker elke week ’n oproep oor dié probleem.
“En die algemeenste probleme is pornografie, afknouery en sexting.
“Ons sit met ou wette en ’n nuwe platform (selfone).”

Oplossings?
Daar is nie ’n eenvoudige oplossing vir die probleme wat sexting by skole veroorsaak nie.
Dit is byvoorbeeld onmoontlik om kinders te verbied om selfone by skole te gebruik omdat toestelle soos selfone en tablette toenemend ’n rol in klaskamers speel.

Volgens Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, is die departement baie bekommerd oor die toename in gevalle van sexting wat by hulle aangemeld word.
“Ons kán nie dié probleem alleen pak nie.

“Skole doen basiese opleiding oor waardes en selfrespek, maar die onus rus op ouers om te weet wat op hul kinders se selfone aangaan en om daardie waardes tuis te bring.”

Wat sê die wet?
Carina du Toit van Tuks sê aanklagte van die vervaardiging van kinderpornografie val onder die Wet op Seks¬oortredings, terwyl aanklagte van die verspreiding en besit daarvan onder die Wet op Film en Publikasies val.
Dus is sexting ’n oortreding van twee verskillende wette.

“Elke foto is ’n aparte klag.”

Jaco Swanepoel van Cyanre sê private instellings mag gevalle van kinderpornografie slegs met ’n mandaat van die polisie ondersoek.

“As ons deur besorgde ¬ouers of skole gekontak word, móét ons eers die polisie in kennis stel voor ons aan enige toestelle raak. Ons werk dus saam met die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.”

/ Principal's Blog

Share the Post

About the Author

Comments

Comments are closed.